Natuurskattejag 1

Natuurskattejag 1 en Natuurskattejag 2 bied tuisonderwysgesinne ‘n unieke, literatuurgedrewe leersafari wat jou gesin op ‘n ontdekkingsreis neem deur die verskillende natuurlike biome van ons wonderlike land.

Natuurskattejag 1 is gemik op kinders tussen ouderdomme 8-14 jaar, en die vervolg, Natuurskattejag 2 is geskik vir ouderdomme 10-16, maar goeie leesstof ken eintlik geen ouderdomsbeperkings nie! In elke streek gee ‘n plaaslike gids jou insig in die fassinerende aardrykskunde, die flora, fauna en ander natuurlike kenmerke van daardie gebied.

Natuurskattejag 1 sluit 13 ‘lewende’ boeke deur skrywers soos Kowie Rossouw, Jan Rabie, Betsie van Niekerk, Marianna Brandt en ander bekende Afrikaanse storievertellers, in! Dit is ‘n ware skatkis om te geniet.

“Vergelykbaar met die inhoud en onderwerpe van die nasionale kurrikulum”

Natuurskattejag 1 en Natuurskattejag 2 saam met ons twee Voetspore-kurrikulums voldoen aan 80-90% van die KABV Sosiale Wetenskappe vereistes vir die intermediêre fase en oortref dit by verre! Lees meer hieronder (links). Indien nodig, gee ons ook riglyne en voorbeelde van verslae vir die doeleindes van die Departement van Basiese Onderwys.

Regs hieronder het ons ook ‘n artikel wat verduidelik hoe al ons ons programme aan die KABV-vereiste vir Huistaal in die Intermediêre Fase voldoen:  

Wat Sluit Natuurskattejag 1 Alles in?

Deur middel van die wonderlike verhale gaan julle vyf van Suid-Afrika se nege biome ontdek. Julle gaan ook die see induik en die ongelooflike seelewe bewaar op beide kuste van Suid-Afrika. In die ouerhandleiding word die feitlike agtergrond aangebied deur persoonlike toergidse van die plaaslike omgewings, wat julle avonture lei en dit verryk met allerhande interessanthede! Die program noem ook insiggewende rolprente en dokumentêre wat julle deel van jul studies kan maak! Om ‘n meer afgeronde Charlotte Mason-styl leerervaring te gee, het ons, in die nuwe 2024-uitgawe, ook poësie oor die natuur en Suid-Afrikaanse liedjies vir musiekwaardering bygevoeg.

Die Ouerhandleiding

Natuurskattejag 1 ouergids

Die ouerleiding is propvol fassinerende feite. Dit sluit ook idees van onderwerpe om oor te gesels en te redeneer, in. Daar is opdragte om jou kinders te help om self meer inligting te soek en uitstappies om die leerervaring te verryk. Dit is die reisplan vir jou gesin se selfry ekspedisie deur ons pragtige land. Daar is geen druk van ‘n kurrikulumdiensverskaffer nie. Julle kan teen jul eie pas vorder en julle tyd vat om temas wat jou kinders se belangstelling prikkel verder te ondersoek.


In elke hoofstuk is daar ook:

  • ‘n kaart van die area wat julle gaan verken 
  • ‘n plaaslike toergids of natuurdeskundige wat julle gaan inlig oor die area
  • veldgidse wat ons aanbeveel 
  • ‘n kontrolelys van die nodige hulpbronne: boeke, musiek en poësie
  • aanmanings om die toepaslike stories op die regte tyd te begin lees
  • opdragte oor die onderwerpe waaroor julle leer
Natuurskattejag 1 Voorbeeldbladsy
Voorbeeld van bladsye in Natuurskattejag 1

Die rolprente en dokumentêre wat aanbeveel word, word nie voorsien nie en is aanvullend. Dit kan verkry word by biblioteke of by aanlyn-kanale waarvoor jy kan registreer.

Aktiwiteite en Uitstappies

Met Natuurskattejag 1 kry kinders nie net die geleentheid om ‘n verbeeldingsreis aan te pak nie, maar daar is ook idees vir praktiese leeraktiwiteite en uitstappies na interessante plekke wat die leerondervinding lewendig maak.

Byvoorbeeld, wanneer julle die storie van Huberta se Swerftog lees, kan julle die strandvlei by St. Lucia in KZN besoek, ‘n toer deur die Wildekus geniet of die Amathola Museum op Qonce (King William’s Town) besoek. Wanneer julle oor die Nama-Karoo leer, kan julle die Kangogrotte op Oudtshoorn gaan kyk of ‘n rit teen die Weskus, in die lente, geniet om die natuurlike blommeskou te gaan bewonder. Besoek soveel van die plekke waaroor julle leer as moontlik, al neem dit ‘n paar jare om by alles uit te kom! Heelwat tuisskoolgesinne, wat ons programme gebruik, het al landstoere gedoen om hulle kinders eerstehandse ervaring van Suid-Afrika te gee. Selfs al kan julle nie die hele land toer nie, is daar in elke provinsie plekke wat julle kan besoek. 

Visit to uShaka in KwaZulu Natal
uShaka, KwaZulu-Natal
Outing in the Fynbos biome
Uitstappie in die Fynbosbiome
Family visiting a nature reserve
Natuurreservaat, Wes-Kaap

Kursuswebblad

Ons het ‘n aanlyn-wagwoordbeskermde platform geskep met bykomende hulpbronne. Ons bied ‘n snitlys van uitgesoekte Suid-Afrikaanse musiek op die kursuswebwerf aan wat ook skakels na video’s en artikels insluit om jou gesin se multi-sensoriese leerervaring te verryk.

Ons noem ook bykomende boeke wat jy by julle daaglikse voorleestyd kan voeg of aan jou kinders kan toeken vir onafhanklike leesgenot indien jy dit verkies. Rolprente wat by die onderwerpe van die studie pas, word ook genoem. Let egter daarop dat ons nie elkeen kon hersien nie, dus word dit met eie diskresie gebruik. Sommige van die resensies wat in die ouerhandleiding gevind word, kan nuttig wees.

A family viewing the online course website for Natuurskattejag

Suid-Afrikaanse Kaart

Die Natuurskattejag 1 pakket bevat ‘n groot gelamineerde kaart van Suid-Afrika. Plekke waarvan geleer word, soos grense, riviere, bergreekse of historiese plekke van belang, kan met witbordmerkers aangeteken word. Voeg papieruitknipsels van die provinsies, notas, foto’s, die prentjieskyfies of enigiets anders wat relevant is daarby, om ‘n kleurvolle visuele leerhulpbron te skep.

South African homeschool wall map for Footprints curriculum
Muurkaart van Suid-Afrika
Picture discs
Voorbeeld van prentjieskyfies

Waardevolle Praktiese Werkstake

In elke hoofstuk van die ouergids is daar aanbevole kaartwerkaktiwiteite en ander opdragte.. Dit sal nie net kinders se begrip van die onderwerpe verryk nie, maar die opdragte bied ook geleenthede om waardevolle, praktiese vaardighede te ontwikkel, soos bv.:

  • om navorsing te doen, 
  • om hulle gedagtes en idees duidelik in geskrewe vorm aan te bied
  • om krities te dink oor boeke wat hulle lees en hul menings te gee in boekresensies
  • die gebruik van moderne hulpmiddels en toeps om kreatiewe voorlegings saam te stel
  • die ontwerp van plakate, bemarkingsbrosjures en ander visuele materiaal wat weergee wat hulle geleer het, en nog meer. 

Dikwels is die proses om die opdragte te doen meer voordelig of relevant as die inhoud wat hulle weergee!

Praktiese  leeraktiwiteite op 'n leersafari

Begin jul Avontuur met Natuurskattejag 1

Natuurskattejag 1 sal teen einde Januarie 2025 beskikbaar wees. Bestel nou!